DIVERSITEIT: MOONLIKE STORIES VAN HOOP

Document Sample
DIVERSITEIT: MOONLIKE STORIES VAN HOOP Powered By Docstoc
					                   DIVERSITEIT: MOONTLIKE STORIES VAN HOOP!


1. INLEIDING


Op ons reis met diversiteit is daar geen vasgestelde agendas nie. In die oop gesprek wil
ons juis reisgenote wees wat saam opsoek is na die misterie en grootsheid van die Drie-
enige God. Indien ons oor diversiteit “saamdink” dan raak dit direk alles waarmee ons ons
elke dag mee besig hou. As ons as teoloe/christene nadink oor die Drie-enige God, die
kerk, mense en die konteks waarin ons elke dag lewe, praat of dink, word die misterie net
groter! Ferdinand Deist (1982: 89) het gesê: “As ek iets oorkom ervaar ek dit met my
emosies, as iemand anders iets oorkom ervaar ek dit met my verstand. As ek iets doen
ervaar ek dit met my verstand, as iemand anders iets aan my doen ervaar ek dit met my
emosies”. Dit word bevestig deur die kontekstuele geloof van ‘n persoon met die
skuilnaam “Beertjie” wat dit verwoord in ‘n gebed oor ons diverse konteks in die Beeld (17
Maart 2008): “Hoekom leef ons in ‘n mooi land wat hel geword het? Kinders word verkrag,
volwassenes word met ‘n warm strykyster gebrand vir ‘n paar rand! Here, help ons! Gee
ons krag, geduld en genade! Help ons om die mooi land heel te maak!”

Die diverse konteks en wëreld waarbinne ons elke dag leef en werk, raak ons almal, hier
plaaslik maar ook globaal. Stephan Joubert (2007:84-85) sê in die boek “Die perfekte
storm” die volgende: “Armoede, misdaad, siekte, sukses, oordaad, mag en magteloosheid,
spoel tans wêreldwyd oor miljoene mense. Maar die onheilspellende aspek van die
perfekte storm is God-nood! God-nood is ‘n neurologiese feit eie aan homo sapiens.
Neuro-wetenskaplikes het in die 1990’s vasgestel ons brein het ‘n sogenaamde ‘God-kol’
in die temporale lob. Hierdie gedeelte in ons brein, net agter ons slape, word geaktiveer
wanneer ons met geestelike sake besig is. Ons is dus biologies bedraad om na God te
dors.”

Teen die agtergrond en die feit dat diversieteit ‘n gegewe is, glo ek beslis dat God, ten
spyte van alles nog steeds ‘n droom het dat ek, ons as gemeentes, ‘n verskil sal maak
binne ons eie konteks. Volgens Nelus Niemandt (2007:163) het gemeentes, en dus ons
elkeen ook, net bestaansreg as ons voedvroue is wat help om geboorte te gee aan iets
wat groter as onsself is, eenvoudig omdat God en sy drome vir die wêreld altyd groter is
as wat ons verstaan of wie ons is. Binne die konteks kan ‘n beter verstaan van asook die
viering van ons diversiteit, ‘n groot verskil maak.

Om die tema “Diversiteit: Moontlike stories van hoop!” te ontsluit, gaan dit kortliks vanuit
die volgende hoeke belig word. Die reis met diversiteit gaan enkele gedagtes uitlig oor
diversiteit. Dit word dan gefundeer in die identiteit van die kerk wat sy oorsprong en
diepste identiteit in die Trinitariese, handelende God, vind. Om waarlik kerk te wees in ‘n
diverse wëreld vereis dat ons weer krities na ons roeping as kerk van God in die wëreld
gaan kyk. Die kerk vervul alleen sy roeping as die kerk ter wille van die Missio Dei (God se
sending) bestaan en die diversiteit daarbuite en buite verreken. Dit is alleen moontlik as
daar deur die proses van geestelike onderskeiding sorgvuldig en in nederigheid gesoek
word na God se wil en plan vir sy koninkryk. Binne die koninkryk en ons eie konteks is
daar wonderlike strorie/narratiewe wat handel oor hoop. Die stories sluit ook aan by God
se Storie met ‘n diverse en gebroke wëreld.
2. OP REIS MET DIVERSITEIT


Die Kerk wat ons Wil wees...

Diversiteit: Binne (ons) hierdie eenheid, vier ons ons diversiteit as God se geskenk aan
ons, want ons andersheid vir mekaar help ons om die volle omvang van God se genade
en liefde beter te verstaan en te waardeer. As die een lid ly, ly al die lede saam en as
die een lid geëer word, is al die lede saam bly (1 Korintiërs 12:26) (Goedgekeur as deel
van die gesprek oor Kerkhereniging by die Uitgebreide Moderamen, 11-12 Junie 2008, te
Carmelite Retreatsentrum)

Diversiteit is… die mengsel, verskeidenheid en omvang van mense en hul eienskappe.
Dit verwys ook na die wye verskeidenheid eienskappe wat van elke mens, groep,
samelewing, land ens. iets uniek/anders maak. Sake wat daardeur geraak word, is onder
andere:
Kultuur
Ras
Geslag
Geloof/spiritualiteit
Verskillende vlakke van liggaamlike en verstandelike vermoë
Verskillende talente en gawes
Seksuele oriëntering
Verskillende gesinsvorme
Verskillende lewenstyle
Verskeidenheid van tale
Ouderdom
Klasse
Ekonomiese
Ongeskiktheid
Mag
Konteks verskille
Geografiese en demografiese
Politieke voorkeure
Tradisie en gewoontes
Etnisiteitsverskille
Grotes van gemeentes
Verskillende ampte, rolle en funksies
Biodiversiteit


3. DIE IDENTITEIT VAN DIE KERK


Die kerk vind sy oorsprong en diepste identiteit in die Trinitariese, handelende God. In dié
diversiteit en eenheid van die Drie-eenheid word die misterie van God sigbaar. Dit sluit ook
aan by wat Hendriks sê: “Theology (die kerk /my eie woord) is about God” (2004:24) Dit is
daarom uiters belangrik dat ons, die kerk net op God Drie-enig alleen sal fokus. Die fokus
mag nooit op die kerk, die ampte, die sakramente, mense of selfs op die konteks wees nie
alhoewel die diverse kontekste en situasies ten alle tye verreken moet word.. Die God wat
ons uit die Skrif, as normatiewe bron en uit die geloofstradisie leer ken, is juis ‘n lewende,
teenwoordige, handelende en diverse God.
Die woord “Triniteit” kom as sulks nêrens in die Bybel voor nie! Die woord is vir die eerste
keer deur Tertullianus in 55-230 NC gebruik. Triniteit as leerstelling word gewoonlik
omskryf as: “Een God, Drie Persone”. Die leerstelling is dan ook in die Geloofsbelydenis
van Nicea in 362 NC vasgelê en bevestig. Verskeie redes kan aangevoer word ter
bevestiging en versterking van die Triniteitsleer (Religion Facts: 2007:2):
    “it is taught indirectly in various statements in the Bible
    it explains the divinity of Jesus and the Holy Spirit while affirming monotheism
      (eenheid en diversiteit)
    it would not be expected that the nature of God would make sense to human minds
    the early ecumenical councils (primarily Nicea) are authoritative”.

Die wese van kerkwees, die identiteit (om voor God te lewe, Coram Dei), die gestuurdheid
(Missio Dei) asook die bediening self (praxis) en die diverse konteks waarbinne ons leef,
vind hul diepste begronding in die Triniteit. Bosch (1991:392) sê dan ook teen die
agtergrond “The identity of the church is missional by its very nature”. Die identiteit van die
kerk word dus bevestig in die Triniteit.

Die Triniteit karteer die “country”, grondgebied waarbinne ons God kan leer ken, ontvang
en gehoorsaam. Peterson (2000:45) gaan voort deur te sê: “It is not the country itself, but
a map of the country. And a most useful map it is, for God is vast and various, working
visibly and invisibly”. Onsself sal dit nooit op ons eie as kerk of gelowiges maak nie. Ons
verdwaal so maklik of word tot blindheid geslaan sodoende weet ons nie eers waar ons is
of waarheen ons op pad is nie.

Dit open die moontlikheid dat gelowiges en die kerk God persoonlik, op verskillende
maniere/divers en binne hulle eie konteks, kan ervaar as die lewende, handelende en
God. Dat God slegs deur verskeie en veelkleurige verhoudings kenbaar en beleefbaar is,
word deur die persoonlike aard van God se verhouding met ons en die kerk al meer
bevestig deur die intieme gemeenskap met die Triniteit. Hierdie gemeenskap is gefundeer
en word begrond in en deur die liefde. Om dus in gemeenskap met die Trinitariese God te
lewe, is ‘n lewenslange oproep tot ‘n verbintenis tot die lewe. Dit waarborg ‘n aktiewe
deelname aan die energieke lewe van God. Indien dit waar is en prakties so beleef word,
dan is daar geen plek of geleentheid om net ‘n toeskouer of onaktiewe lid van die kerklike
gemeenskap te wees nie.

 Peterson (2000:44-45) gebruik die Griekse woord perichoresis wat na dans verwys as hy
oor dié unieke en diverse/veelkantige verhouding en gemeenskap verwys in die Triniteit.
Hy sê dat ons, ons ‘n “folk dance, a round dance”, met drie deelnemers in elke groepie,
moet voorstel. Die Trinitariese God nooi ons/die kerk uit en verwelkom ons om deel te
neem in die Trinitariese dans.

Die Triniteit is die basis of grondslag waaruit die hele Missio Dei ontstaan en verder
ontplooi. Vanuit die Triniteit begin ons iets van die stuurende God verstaan. Die fokus
moet eers verskuif van enige ander missie in die kerk of gemeente na God se missie met
die Wêreld. Die Triniteit stuur ons om oral as gestuurdes te lewe en te werk, om sodoende
‘n verskil te maak. Keifert (2006:55) vat dit so goed saam as hy sê: “En God se missie
weerspieël die aard en wese, die werking en werkswyse van God. Dink so daaraan: God
se aard as Vader, Seun en Heilige Gees is wesenlik ‘n proses van gestuur-wees: Die
Vader stuur die Seun; die Seun stuur die Heilige Gees op dieselfde patroon. In die lewe
midde-in die Drie-eenheid word ons dus geroep, byeengebring, gefokus en uitgestuur op
God se groot missie, ‘n nimmereindigende reis van geroep- en gestuur-wees”.
Omdat die Drie-enige God persoonlik is en binne verhoudings optree, kan ons met
vrymoedigheid deelneem aan sy diverse werk om daardeur deel te word van die misterie.
Ons word deel van die misterie omdat ons hom nooit ten volle kan ken en verstaan nie.
Die diversiteit binne die Drie-eenheid bevestig die andersheid in persoon en identiteit.
Omdat ons hom nie ten volle kan ken en verstaan nie, sal en kan ons hom ook nooit
manipuleer of beheer nie. Hy is en bly daarom die misterieuse God wat altyd handelend
optree.

Die misterie word egter omsluit deur die liefde. Liefde is ‘n werkwoord. Dit dui die liefde
aan wat daar onderling tussen die Triniteit asook tussen mense bestaan. Dié liefde is ‘n
liefde ten spyte van; ja ook ten spyte van die andersheid en diverse aard van God en sy
skepping.

4. DIE ROEPING VAN DIE KERK

Barrett (2004:126) praat oor die roeping van die kerk en sê dan die volgende: “The
missional church understands its calling as witness to the gospel of the in-breaking reign
of God and strives to be an instrument, agent, and sign of that reign”. Die identiteit van die
kerk is dus missionaal in sy wese. Die Triniteit bevestig die roeping van die kerk. Die
diversiteit binne die Drie-eenhied bevestig ook die diversiteit, andersheid van die kerk. Die
missionêre kerk word uit die diverse wêreld geroep en dan saamgebring tot eenheid deur
die Gees as liggaam (eenheid en diversiteit) van Christus. As gestuurdes word die kerk
uitgestuur na die wêreld. Die kerk vervul alleen sy roeping as die kerk ter wille van die
wëreld bestaan en die diversiteit daarbinne en buite verreken. Die kerk kan en mag dus
nooit op sy eie bestaan nie maar moet altyd ter wille van ander bestaan. Regele (2003:21)
stel dit as volg: “Everything we do must extend from God’s mission and extend God’s
mission into God’s world. We have no other business”. Ons word deur die Heilige Gees
bewus van God se Missio Dei. God werk alreeds in die wêreld. Hy is aktief besig met sy
missie om sy koninkryk te laat kom. Die skeppingswerk laat hy voortgaan in die
herskepping van die wêreld. Die werk word deur die Trinitariese God self gedoen. Alles
gaan dus net oor die Drie-enige God. Moltmann (2005:1) sê verder: “Remember, the triune
God is a social God, rich in internal and external relationships”. Die kerk moet in die
diverse verhoudings juis sy roeping as kerk bevestig en uitleef.

As ons praat van die roeping van die kerk, bevestig ons dat God direk daarby betrokke is.
Dit gaan oor die diverse God, oor sy wese en karakter. Hy stuur ons om ‘n verskil te maak.
As gestuurdes moet ons as gemeente reaksie toon op God se karakter. Sy karakter is
missionaal. Die Triniteit se karakter laat die liefde seëvier. Die liefde dring ons om ons
gestuurde roeping te alle tye uit te leef. Omdat God aktief besig is in die wêreld weet ons
as gestuurdes dat hy nie in die hemel sit en niks doen nie. Hy is besig om die wêreld 24
uur per dag, 7 dae per week te herskep om al meer ‘n betroubare plek te word waar daar
verlossing, herstel en versoening kan wees. Mouton skryf in Kruisgewys (2007:3) oor
lewensbelangrike perspektiewe vir missionale gemeentes wat by die Lausanne
konferensie beklemtoon is:
     “Missionale gemeentes breek doelbewus met ‘n Konstantynse model van kerkwees,
     Missionale gemeentes bid vir diegene buite die geloofsgemeenskap,
     Missionale gemeentes herorganiseer hulle strukture,
     Missionale gemeentes organiseer rondom lidmaatleierskap en gedelegeerde
       bevoegdhede,
     Missionale gemeentes ontwikkel ‘n driedimensionele bediening rondom aanbidding
       gemeenskap en gestuurdheid,
      Missionale gemeentes werk met “kom”- en “gaan”- strukture,
      In missionale gemeentes is elke lid op ‘n missie,
      Missionale leiers versorg die gemeenskap deur die nuwe lewenstyl in Christus te
       modelleer”,

Dit is alleen moontlik as die diversiteit van die gemeentes en hul konteks ten alle tye
verreken word.


5. GELOOFSONDERSKEIDING


Missionêre gemeentewees handel ten nouste oor geloofsonderskeiding. Om deur middel
van geloofsonderskeiding die andersheid/diversiteit binne jouself, die gemeente, die
gemeenskap en die wyere kontekste te probeer begryp en te verstaan.
Geloofsonderskeiding vind plaas in die aktiewe teenwoordigheid van die diverse en
stuurende God. Peterson (1987:192) stel dit soos volg: “It is God with whom we have to
do. People want more. They want God.” Die kerk vind sy oorsprong en diepste identiteit in
die Trinitariese, handelende God. Hendriks (2004:19-34) sê: “We belief that theology is
about discernment (Phil.1:9-10). Theology thus implies a discernment process that takes
place when we obediently participate in transformative action and service at different
levels: personal, ecclesial, societal, ecological and scientific.”Die kern vraag “hoe ontdek
ek, ons die wil van God?” bly steeds deur eeue heen aktueel en toepaslik. Dit handel in
wese oor die sinvolheid, ten spyte van die andersheid/diverse van die lewe, my/ons lewe.
Jja die sinvolheid van ons diverse menslike bestaan in die teenwoordigheid van die Drie-
enige God. Geloofsonderskeiding is ’n proses wat die moontlikheid bied om die misterie te
ontrafel. Om reg aan die vraagstuk te laat geskied, is dit noodsaaklik dat daar na ’n paar
aspekte gekyk word om die proses beter te verstaan.

’n Paar definisies gaan meehelp om die nodige lig en leiding te verskaf. Marais (2007:35)
sê: “Geloofsonderskeiding is ’n geloofsgewoonte of ’n manier van dink. Telkens wanneer
ons oor sake nadink, die Woord lees met die doel om só weer op Christus se spoor te
kom, kies ons om die kruis konkreet te maak in ons lewe.” Hendriks (2004:30) omskryf dit
as volg: “On the one hand, the discernment process is rational and on the other, it is a
mystery. How does one describe the work of the Spirit, of faith seeking understanding? ....
Correlational hermeneutics is a two-dimensional exegeses of the world and the Word that
takes place in a gathered faith community who rely actively on God’s presence and
guidance.” Ander skrywers soos Anne Long (2007:157) omskryf dit deur te sê:
“discernment is ‘the capacity to perceive and interpret the religious and moral significance
of experience in order to make an appropriate response to God’... Discernment has to do
with identifying communications that come from God”. Geloofsonderskeiding is ‘n proses
wat ‘n mens se hele lewe aanraak en aanspreek. Barry (2004:82) sê: “I can begin this
process of discernment, this schooling of the heart, at any point of my life.”
Geloofsonderskeiding is dus ‘n geloofsgewoonte, ‘n manier van dink, om die kapasiteit te
hê, om ‘n leergierige hart te hê wat ingestel is op God Drie-enig se werking in en deur die
wêreld in ons alledaagse lewe en dan op grond daarvan daagliks te kies om op ‘n sekere
manier te lewe. Die modi van lewe is baie anders en divers as die wëreld waarin ons leef.
Dit bou ‘n bepaalde kapasiteit, sensitiewiteit en ‘n openheid vir die wat dit as ‘n
lewensroeping uitleef.

As beelddraers van God neem Hy my/ons om in die proses van onderskeiding weer iets
van sy misterie te ontdek. “Discernment is a process in which the faith community depends
on the Holy Spirit’s initiative to lead the community to discover God’s will in order to
participate in God’s missional praxis. Faith and trust in God is the ultimate ground of
discernment and as such conversion or being born again opens up this new plausibility
structure. It opens up the dimensions of mystery and miracle, myth and faith that is able to
deal with the other plausibility structures of this world (Hendriks, 2004:30).”

Die volgende faktore speel ‘n belangrike rol in die proses van geloofsonderskeiding:
    Gehoorsaamheid aan die Woord en die Gees
    Betrokkenheid by God se sending
    Gebondenheid in ’n geloofsgemeenskap
    Om netwerke te skep met gelowiges oor alle grense heen
    In die erediens, sakramente en aanbidding
    Kruisig eie belang en eer
    Ek werk en leef om God te verheerlik

Die wyer perspektief van God se koninkryk moet altyd verreken word. God is persoonlik en
kan alleen so geken word in respons op my/ons persoonlike betrokkenheid. Dit is waar dat
my/ons enigste moontlike respons op die persoonlike God persoonlik kan wees. Niemandt
(2007:65) sê: “Een van die groot strome wat dwarsdeur die Bybel vloei, is God se droom
vir sy hele skepping: mense met nuwe harte, nuwe liggame, ’n nuwe volk van God, ’n
nuwe mensdom, kortom, ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.” Die droom word elke dag
bevestig deur die Drie-enige God se betrokkenheid by my/ons en Sy hele skepping wat
vernuwe word, tot Sy eer alleen. God se beloofde toekoms in die hede kan alleen só waar
word volgens Keifert (2007:58).

Marais (2007:46) sê: “Om in die geloof te onderskei en tot ’n nuwe oortuiging te kom is
onder meer ook ’n denkproses wat redelike denke insluit, nie uitsluit nie... Onderskeiding
vra van ons dieper en onderskeidende vlakke van nadenke”. Indien ek/ons glo, beteken
dit beslis nie dat ek/ons ophou om te dink nie. Dit is immers juis ons denke wat vernuwe
moet word. Geloofsonderskeiding vra dus juis dat ons die koninkryk in ons gedagtes moet
hou om sodoende ’n helder prentjie te sien van die wat ons juis nie kan sien nie. Volgens
Marais (2007:47) is ons “denke in geloofsonderskeiding gefokus op dié vrae wat ons help
om na God te vra en sy waarheid beter te verstaan. Die verskil lê in die fokus van ons
denke, nie in die denkproses self nie .... Daarom is ons in geloofsonderskeiding besig met
die vrae oor wie God is en waarmee Hy besig is”.


6. MOONTLIKE STORIES VAN HOOP

Diversiteit kom alleen tot sy volle reg indien daar stories en verhale oor vertel word. Dié
narratiewe oor diversiteit/andersheid skep dan die ruimte om hoop te bring. Moontlike
stories van hoop wat dan die diversiteit verreken, word dan bakens van hoop. Diversiteit
word dan tereg beleef as God se gawe waarbinne die andersheid vir mekaar tot sy volle
potensiaal en omvang benut asook bestuur word. So word die volle onvang van God se
genade en liefde beter verstaan en waardeer.

‘n Moontlike vasvang in woorde van wat hoop kan behels is volgens Fuller Rodgers
(2002:99) die volgende: “hope is a powerful force for change. Hope involves new
perspectives and possiblities when all seems lost. Hope is an antidote for despair. It is
the faith that life will rise out of death”.
Die skep van verwagting en hoop is daie meer veelkleurig indien dit deur die lens van
diversiteit besigtig word. Die toekomsprentjie wat ons het, word makliker ingeklee en
uitgeleef indien ons iets van diversiteit verstaan. “n Holistiese toekomsprentjie is ook
alleen moontlik indien diversiteit verreken en waardeer word. Müller (2000:42) vra terreg ‘n
terapeutiese vraag: “hoe kan die toekomsprentjie weer heelgemaak word sodat dit ‘n
dryfkrag kan word om in die hede te kan verander. Kan ‘n mens verander as jou
toekomsstorie verduister is, as die toekoms net nie wil vorm aanneem nie? ‘n Mens kan
nie. Jy verander na ‘n toekomsbeeld toe. ‘n Mens moet ‘n verbeelding hê van ‘n
aanvaarbare toekomssituasie, wat ook die diverse verreken en waarheen jy kan verander.
God se Storie kan die individu, gemeente en gemeenskap help om weer hoop te kry.
Vanuit God se Verhaal kan mense, gemeentes en gemeenskappe hul eie storie
interpreteer en hulle kan leer om regtig net op God te vertrou en deur Sy Gees staat te
maak op Sy voortgesette en helende betrokkenheid by hulle op die pad vorentoe.

Volgens Bester & Müller (2002:15) bied hoop nie oorvereenvoudigde oplossings of
antwoorde nie, en dus ook nie ‘n ontvlugting uit die werklikheid nie. Ware hoop is geleë in
‘n liefdevolle en verantwoordelike proses van narratiewe betrokkenheid. ‘n Dinamiese
toekoms word verseker omdat God se teenwoordigheid in die hede bevestig word. Lester
(1995:69) asook Müller (1996:104) omskryf hierdie dinamiese toekoms as God wat vanuit
die toekoms kom om die mens uit te nooi en die mens vanuit hierdie toekoms te ontmoet.
Hierdie beweging van God vanuit Sy toekoms na ons hede vorm dus die grondslag van
die Christelike hoop want dit bied die Christen ‘n sinvolle toekomsverhaal.

Capps (1995:37) wys daarop dat Christelike hoop gekontroleerd gebruik maak van beelde.
Diverse beelde, asook ‘n ryke verskeidenheid, word gebruik. Hoop hou sodoende rekening
met die onbekende en verrassende ander realiteit. Dit is die sinvolle verbeelding van ‘n
nuwe toekomsverhaal vanuit die herinterpretasie en herstukturering van die
verledeverhaal. Hoop is dus ‘n essensiële deel van menswees en dit gaan hoofsaaklik oor
‘n lewensoriëntasie. Omdat dit ‘n lewensoriëntasie is, ‘n manier van leef is, is dit ‘n
lewensgesindheid wat rekening hou met God se unieke uitkomste. Die pastor is ‘n
hoopdraer. ‘n Hoopdraer moet juis die mense daaraan herinner dat daar ‘n hoopvolle
toekomsverhaal is wat op ‘n unieke wyse God se betrokkenheid in sy/haar lewe sal
bevestig.


DR. J.A. BOTHA
Sameroeper van die Taakspan vir diversiteit van die Algemene en Noordelike Sinode
Pastorale Krisis- en Verryking Spreekkamer (22 jaar)
Deeltydse Predikant NG Gemeente Eloffsdal
Vryskut Joernalis
Tel: 012 546 3545
Fax: 0865201177
www.pastoralepraktyk.co.za
e pos: jan@pastoralepraktyk.co.za
                           Die Kerk wat ons Wil wees...

Roeping
In ons verbintenis aan die Drie-Enige God, herbevestig ons, as NG Kerk in Suider-Afrika, ons
duidelike roeping in Afrika.

Gestuur na die Wêreld (Missiologie)
Ons is daarvan oortuig dat die kerk in die eerste plek nie net ter wille van haarself en haar lidmate
bestaan nie, maar tot die eer van God en ter wille van alle mense. Ons verstaan ons roeping om
hier en nou ‘n verskil te maak. Ons wil dit doen deur die hoop en versoening wat in ons leef, met
almal om ons te deel.

Inklusiewe Kerkwees (Ekklesiologie)
God het ons as gelowiges, almal saam en afsonderlik, uit die hele menslike geslag gekies om vir
Hom ’n kerk te wees. Hy het ons deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof, van
die begin van die wêreld af tot die einde toe, bymekaar gebring. Elkeen is daarom verplig om sy
gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van al die ander lede van die kerk (asook dié
daarbuite) te gebruik… (Sien Heidelberg Kategismus Sondag 21 vraag en antwoord 54 tot 55).

Konteks
Die konteks waarin ons geroep word, vertel die tragiese verhale van geweld, die verwoestende
omvang van armoede, hongersnood, misdaad, die vigs-pandemie en die gebrek aan respek vir
God, mens, dier en die omgewing. Wat meer is, talle mense leef en sterf elke dag sonder Christus
en sonder hoop.

Versoening
Ons kan die kerk nie anders verstaan nie as die draer van God se versoening met Hom, met
mekaar en die wêreld. Ons kan en wil hierdie groot uitdaging nie alleen aanvaar nie, want hierdie
bediening van die versoening (vgl. 2 Korintiërs 5:19-20) is groter as die NG kerk. Die omvang is
trouens só groot dat alle mede-gelowiges se hulp en samewerking noodsaaklik is. Ons as kerk
verbind ons tot groter sigbare eenheid met ander kerke, maar in besonder met die lede ons eie
kerkfamilie. Ons vind ons eenheid in ons roeping en is uit die Bybel/Evangelie daarvan oortuig dat
God dit so wil hê.

Diversiteit
Binne hierdie eenheid, vier ons ons diversiteit as God se geskenk aan ons, want ons
andersheid vir mekaar help ons om die volle omvang van God se genade en liefde
beter te verstaan en te waardeer. As die een lid ly, ly al die lede saam en as die een
lid geëer word, is al die lede saam bly (1 Korintiërs 12:26)

Verhoudinge
Ons wil hierdie opwindende pad met eerlikheid, deursigtigheid, integriteit en in
gehoorsaamheid stap. Onderlinge verhoudings in eie geledere, asook met lidmate van
ons familie van NG Kerke, sal op hierdie geloofsreis deurslaggewend wees.

Uitdagings
Ons is daarvan bewus dat hierdie pad vir ons onsekerheid, seerkry en selfverloëning mag inhou,
maar ons troos is dat hierdie nuwe eenheid ’n viering is van ons verbintenis aan die Drie-Enige
God wat in Homself vir ons ‘n toonbeeld is van ware eenheid (Markus 12:29-30).


Goedgekeur as deel van die gesprek oor Kerkhereniging by die Uitgebreide Moderamen,
11-12 Junie 2008, te Carmelite Retreatsentrum
             MOONTLIKE RIGTINGWYSERS OP DIE PAD…


1. Hoe kan ons diversiteit op verskillende kreatiewe wyses/maniere vier?
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
__________________________________


2. Beleid/leidrade/merkers om diversiteit te bestuur op verskillende
   vlakke.
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________


3. Opleiding/toetusting in sensitering t.o.v. diversiteit om ‘n bewustheid daarvoor te
   skep.
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________


4. Skep van netwerke en ‘n oop, interaktiewe en volhoubare komminikasie
   moontlikhede.
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________

				
DOCUMENT INFO
Shared By:
Categories:
Tags:
Stats:
views:5
posted:9/30/2012
language:Unknown
pages:9