PROGRAM ALASKA / KANADA by 9U1de6

VIEWS: 6 PAGES: 4

									                      Christine van Wyk - Toere
                                                                                           (EDMS) BPK
                                                                                           REG NR 94 01824/07




TEL:     012 546 4967                                                       POSBUS 17203
FAKS     012 565 5678                                                       PRETORIA-NOORD
E-POS:   toere@mweb.co.za                                                   0116
WEB:     www.travelentoer.co.za


                              PROGRAM ALASKA / KANADA
                                      5 – 26 SEPTEMBER 2011
September
Ma 5   JOHANNESBURG - AMSTERDAM
       Meld minstens 3 uur voor vertrek aan by KLM se inweegtoonbank in die internasionale vertreksaal
       van die O R Tambo-lughawe. Vertrek om 23:20 met KLM van Johannesburg na Amsterdam.
Di 6     AMSTERDAM - VANCOUVER
         Aankoms op Schiphol-lughawe in Amsterdam om ongeveer 10:30 plaaslike tyd. Daar is bietjie tyd
         vir ronddrentel en bene rek tot 13:30 wanneer die KLM-vlug na Vancouver vertrek. Totale
         vliegtyd is 9 uur en 40 minute. Ná aankoms in Vancouver, Brits-Columbië, word ons na ons hotel
         oorgeplaas. Ons geniet aandete saam by die hotel (ingesluit) waarna u vroeg-aand kan regmaak vir
         'n goeie nagrus.
Wo 7     VANCOUVER OMGEWING
         Vanoggend kry ons geleentheid om die noordelike buitewyke van Vancouver onder leiding van 'n
         gids te besigtig. Ons ry oor die Lions Gate-brug en onderneem 'n myl-lange kabelrit op met
         Grouse-berg (1 250 m hoog). Op 'n mooi dag bied dit 'n asemrowende uitsig oor Vancouver, die
         Stille Oseaan, Golf-eilande en sneeubedekte bergtoppe. Ons spandeer 'n tydjie bo-op die berg,
         waar mens onder andere 'n "Lumberjack"-vertoning kan bywoon en 'n rehabilitasie-wildkamp met
         bere en wolwe kan besigtig. Indien die tyd dit toelaat, besoek ons 'n salm-teelstasie.
         Daarna besoek ons die indrukwekkende Capilano-park met een van die wêreld se langste hangbrûe
         wat sowat 70 m bo die Capilano-rivier span oor 'n lengte van 139 m. Dis 'n belewenis om daaroor
         te stap. 'n Interessante boomtop-ervaring wag op ons waar mens op 'n platform stap omring van
         digte inheemse woud met reuse eeue-oue bome. Ons geniet aandete (ingesluit) in Capilano Park.
Do 8     VANCOUVER - ANCHORAGE
         Ons vertrek na opsionele ontbyt na die lughawe vir ons vlug noordwaarts na Anchorage (Alaska).
         Ons land vroeg-middag waar ons na 'n kort besigtigingstoer van hoogtepunte hier, geleentheid het
         om die stad op ons eie te verken. Vanaand kan u die atmosfeer van 'n tipiese Alaska "brewhouse"
         ervaar tydens aandete (opsioneel). Oornag in die Marriott Hotel.
Vr 9     ANCHORAGE - SEWARD
         Vandag onderneem ons een van die mooiste treinritte in die VSA – die historiese Alaska-treinroete
         tussen Anchorage en Seward. Die rit wat oor 184 km strek, neem mens verby gletsers, watervalle,
         mere, riviere en berge. Dit is 'n unieke geleentheid waardeur mens werklik 'n kykie in die hart van
         Alaska kry.
         Ons gaan laatmiddag aan boord van ons luukse boot, The Radiance of the Seas, vir die begin van
         ons sewe nagte lange Alaska-bootvaart. Sodra al die formaliteite afgehandel is en u op die boot is,
         maak u uself tuis in die kajuit en verken die boot. Op 'n gegewe tyd voor vertrek neem ons deel
         aan die verpligte veiligheidsoefening. Ons geniet elke aand om 18:00 saam as groep aandete in die
         restaurant wat vir ons aangedui sal word. Die boot vertrek om 21:00. Staan gerus op die buitedek
         en aanskou die omgewing soos wat ons wegvaar.
Sat 10   BOOTVAART: RADIANCE OF THE SEAS
         Ontbyt en middagete word daagliks in die vorm van 'n buffet aangebied. U is vry om te kom en te
         gaan soos u wil wat hierdie etenstye betref. Tee en koffie is ook deurgaans op gegewe plekke
         beskikbaar.
         Vanoggend kan u rustig verkeer op die boot terwyl ons vaar. Verken gerus die boot op elke vlak of
         gaan sit in een van die sit-vertrekke of op die buite-dek om die gebied goed waar te neem.
         Kyk gerus ook deur al die moontlike opsionele uitstappies by die plekke waar ons vasmeer en
         bespreek u plekke volgens u keuse. Volledige inligting hieroor is by die Navrae-toonbank
                                                     2

        beskikbaar, sowel as op die TV-kanaal in u kajuit. 'n Wye verskeidenheid van vermaak word gratis
        aan boord aangebied. Raadpleeg u program wat daagliks uitgedeel word vir inligting hieroor en
        oor ander pret-aktiwiteite
        Maak seker dat u vroeg gaan eet vanmiddag sodat u teen ongeveer 14:00 buite kan staan as ons die
        massiewe Hubbard-gletser bereik. Wees maar gewapen teen moontlike koue met 'n serp en
        handskoene, want selfs op 'n mooi dag kan dit ysig koud wees! Die boot vaar baie stadig in hierdie
        gebied waar heelwat los stukke ys in die water lê. Die Hubbard-gletser is die langste ysrivier in
        Noord-Amerika en ook een van die aktiefste gletsers in sy soort in Alaska. Die boot is so ontwerp
        om aan gaste die beste moontlike uitsig te bied, en u sal hierdie "yslike" natuurlike wonderwerk
        met sy 2 160 km² blou ys van omtrent enige plek op die boot af kan sien. 'n Mens staan verstom by
        aanskoue van hierdie grootse natuurverskynsel, en selfs die boot word verdwerg.
So 11   BOOTVAART: RADIANCE OF THE SEAS
        Aankoms om 09:00 in Juneau, hoofstad van Alaska. Die dorp het tot stand gekom gedurende 'n
        goudstormloop in 1880. Vandag het die voormalige goudmyndorpie van die allermooiste
        natuurtonele in Alaska. Dit is geleë aan die voet van die berg Juneau op 'n smal landstrook teen die
        Gastineau-kanaal. Verskeie pragtige fjorde is langs die kanaalkus te sien. Die majestueuse
        Mendenhall-gletser is daar naby wat tydens 'n opsionele uitstappie besigtig kan word - soos
        byvoorbeeld 'n asemrowende helikopter-rit oor die gletser. U kan ook opsioneel met die
        kabelspoor teen die berg opgaan, waar lieflike staproetes aangedui is. Ons vertrek om 21:00 verder
        na Skagway.
Ma 12   BOOTVAART: RADIANCE OF THE SEAS
        Ons kom ongeveer om 07:00 in Skagway aan. Neem deel aan 'n opsionele toer of gaan aan wal en
        verken die karaktervolle mynersdorpie op u eie. As mens in die hoofstraat afstap, voel dit of jy
        terugstap in die geskiedenis of in 'n storieboek oor die Wilde Weste. Nadat goud in die Klondike-
        omgewing van die Yukon-gebied (net oorkant die grens van Alaska) ontdek is, het dit uitgeloop op
        'n goudstormloop in 1898. Duisende fortuinsoekers het die beste vertrekpunt gesoek vir die
        moeilike reis na die goudveld en het vasgestel dat die beste roete per boot van die noordelike punt
        van die Lynn-kanaal was - so het Skagway ontstaan. Ons vertrek om 20:30 van Skagway na Icy
        Strait Point.
Di 13   BOOTVAART: RADIANCE OF THE SEAS
        Ons meer vanoggend om 7:00 vas by Icy Strait Point, 'n ongerepte dorpie met net ongeveer 800
        inwoners. Dit is geleë naby Hoonah, die grootste Indiaanse Tlingit-stam-nedersetting in Alaska.
        Die dorp, wat hoofsaaklik van vissery afhanklik is, het 'n historiese vis-inmaakfabriek wat uit 1930
        dateer. Tydens 'n opsionele uitstappie na die Tlingit Park kan 'n mens meer van die inheemse
        geskiedenis en kultuur te wete kom. 'n Ander moontlike opsie is om die tradisionele visindustrie
        van nader te leer ken en salm of heilbot te proe by die geskiedkundige "Fish House". Ons vertrek
        om 16:00 na Ketchikan.
Wo 14   BOOTVAART: RADIANCE OF THE SEAS
        Ons laaste vasmeerplek tydens die vaart is Ketchikan, wat ons om 9:00 bereik. Dis 'n bekoorlike
        dorpie wat maklik te voet verken kan word. Beleef die geskiedenis van hierdie delwersdorpie as u
        deur die historiese ou deel stap. Ketchikan word beskou as die salm-hoofstad van die wêreld
        weens die oorvloed van dié gesogte vissoort in sy waters. Voordat die goud-stormloop ook hier
        plaasgevind het, was dit 'n klein vissersdorpie wat deur die Indiane bewoon was. Besoek gerus die
        Totem Erfenis-sentrum of onderneem een van die opsionele uitstappies na 'n tradisionele Indiaanse
        nedersetting waar u van die handwerk en totempale kan sien en van hulle legendes kan hoor. Daar
        is ook wildernis-safari-uitstappies of vliegritte oor die Misty Fjords-gebied of selfs die geleentheid
        om salm te vang op een van die opsionele uitstappies. Ons vertrek om 16:00 verder vir die laaste
        skof van ons vaart.
Do 15   BOOTVAART: RADIANCE OF THE SEAS
        Vandag ervaar ons vir oulaas die weelde van 'n rustige vaart terwyl ons deur die "Inside Passage"
        vaar tot in Vancouver, Kanada. Die vaart teen die kus langs is wat die Alaska-roete so gewild
        maak. Die kuslyn is pragtig met sneeubedekte berge op 'n afstand en verlate eilande met mistige
        reënwoude. Kyk gerus uit vir seelewe soos robbe of walvisse of geniet net die uitsig vanuit een van
        die baie sitvertrekke.
                                                    3

Vr 16   VANCOUVER
        Aankoms ongeveer 7:00 in die nou reeds bekende Vancouver, Kanada. Ná ontbyt en immigrasie-
        en doeaneprosedures verlaat alle toerlede die boot.
        Ons ontmoet ons busbestuurder en gids wat met ons 'n besigtigings- en stadstoer doen. Ons sien
        o.a. die pragtige groen Stanley Park met sy 10 km lange seeskans-muur. Beleef ietsie van die
        kulturele rykdom van die stad as ons die inheemse totempale besigtig, Gastown met sy Britse
        stempel en unieke stoom-horlosie sien en die kleurryke Chinatown besoek. Ons sien ook Prospect
        Point, English Bay en die pragtige Queen Elizabeth Park.
        Die res van die dag is u vry om die stad op u eie te verken. U kan die akwarium by Stanley Park
        besoek, of Granville-eiland met sy interessante markte en kunswinkels (opsioneel). Oornag in
        hotel.
Sa 17   VANCOUVER - VICTORIA
        'n Gids ontmoet ons vir die dag by die hotel waarvandaan ons vertrek na Victoria op Vancouver-
        eiland. Ons ry deur die landbou-gebied van die Fraser-rivierdelta na Tsawwasen. Hier neem ons 'n
        aanskoulike 1.5 uur lange veerbootrit deur die Golf-eilande oor die Straat van Georgia tot by
        Swartz Bay. Ons besoek die lieflike Butchart Tuine, ongetwyfeld een van die hoogtepunte van die
        toer. In hierdie lushof wat al vanaf 1921 vir besoekers oopgestel is en oor 50 akker strek, sien en
        ervaar u met al u sintuie die roostuin, die Japanse en Italiaanse tuin, die unieke versonke tuin,
        fonteine ens.
        Victoria is die hoofstad van Brits-Columbië en ons sien o.a. historiese geboue soos die
        Parlementsgeou wat dateer uit die Victoriaanse era, sowel as die bekende Empress Hotel. Dit is
        egter ook 'n moderne hawe-stad met sy eie karakter. Vanaand het u geleentheid om die bekoring
        van hierdie stad met sy besondere liggies te geniet. Visliefhebbers kan gerus een van die smaaklike
        vis-opsies kies by 'n restaurant van u keuse (opsioneel). Oornag in hotel.
So 18   VICTORIA - WHISTLER
        Ons ry vanoggend noordwaarts langs die kus van Vancouver-eiland na Nanaimo waar die veerboot
        ons neem na Horseshoe Bay. Hiervandaan gaan ons met die Sea to Sky Highway-roete na Whistler.
        Hierdie roete bied besondere natuurskoon: die diep groen oseaan aan die linkerkant en berge met
        watervalle aan die regterkant. Whistler wat meestal slegs vir voetgangers toeganklik is, is een van
        Kanada se mees gesogte ski-oorde. Dis ook hier waar 2010 se Olimpiese Winterspele gehou is.
        Aandete by die Old Spaghetti Factory is vanaand ingesluit.
Ma 19   WHISTLER - QUESNEL
        Ons groep word vroeg-oggend oorgeplaas na die stasie vir 'n tweedaagse asemrowende rit met die
        Rocky Mountaineer (Red Leaf-diens). Hierdie roete word die Rainforest to Gold Rush route
        genoem. Ons het dit spesiaal ingevoeg in ons roete omdat dit sinoniem met die Kanadese Rockies
        is en dikwels een van die "mees aanskoulike treinritte ter wêreld" genoem word. Die rit kronkel
        langs die Anderson- en Steton-mere verby totdat die indrukwekkende Fraser-riviervallei bereik
        word. Hier ry ons langs die uitgestrekte Caribou-plato en majestueuse Fraser Canyon verby.
        Kommentaar oor die roete word gelewer waar nodig. Ons neem net 'n oornagtassie saam,
        aangesien ons groot bagasie apart vervoer word. Maak seker dat u kamera en ekstra batterye
        byderhand is, sowel as u toiletware, noodmedisyne en waardevolle items. Kontinentale ontbyt,
        ligte middagete en verversings is ingesluit op die trein. Ons arriveer laat-middag in Quesnel waar
        ons in 'n plaaslike hotel oornag.
Di 20   QUESNEL / JASPER
        Ons vertrek weer vroeg verder per trein. Geniet die skoonheid van die ongerepte wildernis, welige
        valleie en magtige Rotsgebergte vanuit die gemak van u treinsitplek. Ons bereik die woud-gebied
        waar u gerus kan uitkyk vir wild wat mag voorkom. Ons ry verby Mount Robson, wat op 3 954 m,
        die hoogste piek in die Kanadese Rockies is. Hier ontspring die Fraser-rivier – die weligste
        salmrivier ter wêreld. Ons verlaat Brits-Columbië en gaan Alberta-provinsie binne. Etes word
        weer vandag bedien soos gister. Ons arriveer teen die aand in Jasper, genestel in die Athabasca-
        vallei en middelpunt van die Jasper Nasionale Park.
Wo 21   JASPER
        Vandag het ons 'n rustige dag met besigtiging van die Jasper-omgewing saam met ons
        busbestuurder-gids. Hoogtepunte wat ons vandag besigtig, is die Pyramid- en Patricia-mere en die
        Maligne-kloof met sy kalksteen-wande en kolkgate. 'n Nuwe hoogtepunt wag op ons as ons die
                                                    4

        90 minute bootvaart op die skilderagtige Maligne-meer onderneem terwyl interessante kommentaar
        gelewer word. Die 22 km lange meer is die grootste meer in die Rockies. Ons vaar tot by die
        bekende Spirit-eiland waar ons afklim en stap tot by die idilliese uitkykpunt – 'n ware
        poskaarttoneel en een van die mees gefotografeerde plekke in die Kanadese Rotsgebergte. Aandete
        by die Maligne-meer is vanaand ingesluit.
Do 22   JASPER / BANFF
        'n Dag van ongekende natuurskoon wag op ons met bergpieke wat bo ons uittroon, rustige mere en
        die moontlikheid om wild langs die roete teë te kom. Ons reis met die Icefields Parkway en bereik
        die Columbië-ysveld, die grootste ysgebied suid van die Arktiese sirkel, waar ons 'n
        indrukwekkende rit met spesiale sneeutrokke op die 305 m dik Athabasca-gletser onderneem. Dis
        'n baie spesiale belewenis. Daarna stop ons by die Bow-pas-uitkykpunt waar ons die pragtige
        Peyto-meer sien en verderaan die Bow-meer en die Crowfoot-gletser. 'n Volgende hoogtepunt is
        die Louise-meer, waar die omliggende berge en gletsers op 'n mooi dag volmaak in die see-groen
        water weerkaats. Ons reis voort na die Banff Nasionale Park, waar ons in Banff self tuis gaan.
        Stap gerus vanaand deur hierdie atmosfeer-ryke dorpie.
Vr 23   BANFF
        Die Banff Nasionale Park is 'n beskermde natuur-gebied van 6 641 km² met indrukwekkende berge,
        woude en mere. Sowat 4 miljoen toeriste besoek jaarliks hierdie gebied wat tot 'n UNESCO-
        wêrelderfenis verklaar is.
        Ons verken die omgewing vandag met besigtiging van o.a. die Bow-valle naby die bekende
        Fairmont Banff Springs Hotel, Surprise Corner en die Hoodoo-uitkykpunt. Ons onderneem 'n
        kabelrit na die top van Sulphur-berg (2 281 m) waarvandaan mens 'n panoramiese 360 grade wye
        uitsig kan geniet oor die omgewing se pragtige berge en mere. Daar is 'n maklike stap-platform
        waarmee u nog verder kan aanstap. 'n Bootvaart van 60 minute op die Minnewanka-meer neem
        ons verby interessante vingeragtige rotsformasies (hoodoo clusters) wat geheimsinnig kan lyk op 'n
        mistige dag.
        Vanaand woon ons groep die Oh Canada Eh! musikale vertoning en heerlike ete in 'n "Log Cabin"
        by (ingesluit). Dis 'n vrolike aanbieding wat die kulturele verskeidenheid en wildernis-atmosfeer
        van Kanada in sang en musiek uitbeeld.
Sa 24   BANFF / CALGARY
        Vandag reis ons ooswaarts deur 'n landskap wat vinnig verander soos wat ons ry. Ons gaan verby
        Canmore, wat in 1880 as spoorweg- en steenkoolmyn-dorpie ontwikkel het. Dit het sedert 1988 se
        Olimpiese Winterspele ontwikkel as 'n buitelug-sportsentrum. Ons reis deur die Bow Valley
        Provinsiale Park waar ons die berge van die Kanadese Rockies agterlaat en die voetheuwels bereik
        naby Calgary. Ons sien die indrukwekkende Kanada Olimpiese Park van dieselfde Olimpiese
        Winterspele met sy skisprong-, bobslee en ander sportbane wat vandag ook as 'n gewilde
        sportsentrum gebruik word.
        Calgary is 'n indrukwekkende moderne olie- en cowboy-stad. Dit bied die beste van twee wêrelde:
        'n vinnig-groeiende, polsende, kosmopolitiese stad wat iets van alles vir sy sowat 1 miljoen
        inwoners bied, maar slegs 'n uur se ry weg is die wildernis-gebied van die Rotsgebergtes. Calgary
        kan met reg die stad van glas genoem word weens al sy glas-konstruksies. Ons sien tydens ons
        besigtigingstoer die historiese en moderne hoogtepunte van hierdie dinamiese stad. Die bekende
        Stampede of Rodeo wat jaarliks in Julie in Calgary plaasvind, word beskou as die grootste
        buitelugskou ter wêreld met meer as 1,2 miljoen besoekers oor 10 dae. Ons toer sluit toegang by
        die imposante Calgary-toring in wat 'n onbelemmerde uitsig bied oor die stad. Diegene wat nie aan
        hoogtevrees ly nie, kan op die unieke glasvloer staan en afkyk!
So 25   CALGARY/AMSTERDAM
        Vanoggend kan u lekker laat slaap sodat u gereed is vir die lang terugtog huis toe of u kan nog vir
        oulaas hierdie stad se atmosfeer op u eie beleef. Vroegmiddag vertrek ons na die lughawe vir die
        terugvlug om 15:25 na Amsterdam. Die vlug duur ongeveer 9 uur.
Ma 26   AMSTERDAM / JOHANNESBURG
        Aankoms vroegoggend op Schiphol-lughawe in Amsterdam. Ons vertrek sowat 2 ure later met
        KLM vir 'n dagvlug na Johannesburg waar ons om 21:20 land na 'n onvergeetlike vakansie.

                                                 -oOo-

								
To top